top of page

Mooiste prenteboek uit dié streek

JUNE 1, 2017

Deur Marlene Malan


LOUISA PUNT-FOUCHE se “fabel” oor die oewerkonyn het gebeur sonder dat sy dit beplan het. Maar die dag toe dié bedreigde diertjie voor haar op hul plaas, Kredouw in die Prins Albert-vallei, kom staan het, het sy nooit weer ophou dink aan hom nie.

Daardie omgee vir “die diertjie met die langste ore en die sagte bruin oë” het geboorte gegee aan haar boek Skaarser-As-Skaarste Oewerkonyn van die Karoo en sy Engelse eweknie, Rarest Riverine Rabbit, wat pas verskyn het.

Die natuur lê haar na aan die hart, vertel Louisa, en dit was vir haar pynlik hoe die paar oewerkonyne op Kredouw verdwyn het nadat ’n buurman ’n pad regdeur die diertjies se habitat gebou het. Haar besware het op dowe ore geval. “Al wat ek toe kon doen, is om mense van die lot van dié bedreigde spesie bewus te maak,” vertel sy.

Die verhaal – of fabel, soos Louisa dit noem – begin waar ’n “ou vroutjie” op ’n plaas in die Karoo met haar wandelstok stap, “in ’n tyd wat vir altyd is”, toe sy skielik ’n oewerkonyn gewaar. “Daardie ou vroutjie is ek. Ek het met my wandelstok rondgeloop, en daar spring ’n konyn toe uit die bosse. Ek was my lewe lank ’n stadsmeisie, en ’n oomblik lank het ek ge­dink dis ’n kangaroe, so groot en manjifiek is hy! Maar toe besef ek dadelik – dis mos die Karoo dié; dit kan nie ’n kangaroe wees nie. Ek het die pragtige dier bewonder, en oor oe­wer­konyne begin nalees. En gou agtergekom wat gebeur met hase in die naam van skoonheid. Hase is proefkonyne vir ydel. Haarkleurmiddels en sommige ander skoonheidspro­dukte word op hulle getoets.”

Louisa het skoonheidsprodukte oor ’n tydperk van twee, drie jaar begin ontwikkel. “Ek is ’n soort alchemis – ek doen kwalitatiewe toetse op my produkte en noem dit Sasha, die Sanskrit-woord vir die joga-beweging wat jou help om te ‘laat gaan’, ’n lewe te lei met ’n ligte impak. Dis my lewensbeginsel. Hierdie boek is niks anders nie as ’n bewuswording van daardie proses.”

Vir Louisa was dit belangrik dat beelde ’n ewe belangrike rol in die boek speel, en daar­om het sy self die kunswerke gedoen ter illustrasie. “Vir my gebeur woord en beeld tesame, hoewel ek tóg groter klem plaas op woorde. Die oomblik as dit gebeur, skep jy ’n simbool, of metafoor. Dis hoe ek van kleins af te werk gegaan het. Die boek gaan dus nie net oor die storie nie, maar die kleure van die kunswerke, selfs die lettertipe in die boek, is my poging om lewe en ener­gie weer te gee.”

Tog voeg sy dadelik by: “Ek ontleed dit alles nie in diepte nie. Dit gebeur net. Ek doen net wat ek moet doen. Ek het hierdie konyn lief en is kwaad oor wat met hom op ons plaas gebeur het.”

Louisa het ’n doktorsgraad in die sielkunde en het 30 jaar as kliniese sielkundige in Port Elizabeth gepraktiseer. Sy en haar man, dr Ian Punt, ’n mediese dokter, het sowat vier jaar gelede hul praktyke verruil vir olyfverbouing op Kredouw.

Sy het Oewerkonyn self uitgegee, onder leiding van die boekproduksiekenner Christel Foord.

bottom of page